Jy hoef nie ’n verkleurmannetjie of trapsuutjie te wees om te hoort nie.
Kom ons begin reguit: Jy kan by mense inskakel sonder om jouself af te skakel. Dis nie ’n óf-óf keuse nie. Jy hoef nie alles wat jou uniek maak, weg te steek om aanvaar te word nie. Maar ja, dis makliker gesê as gedaan. Want daar’s daai subtiele druk—dra dié skoene, kyk daai reeks, hou van daai musiek. Dis soos ’n ongeskrewe kontrak. En jy’t nie altyd kans gehad om te onderteken nie of die bepalings en voorwaardes van die "vriendskap" te verstaan nie.
Maar hier’s die ding: Egte mense voel aan wanneer jy net speel-vir-inskakel. En weet jy wat’s vreemd? Mense trek eintlik meer aan by iemand wat gemaklik is met hulself. Dit vat "guts", maar dis aansteeklik.
Hoe weet jy of jy besig is om jouself te verloor?
Soms is dit klein goedjies:
-
Jy lag saam al voel jy ongemaklik.
-
Jy sê ja, al wil jy nee sê.
-
Jy ignoreer iets wat jou regtig pla, want “dis nie so erg nie”.
Hierdie is die rooi liggies. As jy ná ’n dag tussen jou “vriende” moeg, leeg of gefrustreerd voel—dis ’n sein. Dis nie altyd oor groot drama nie. Dis oor hoe veilig jy voel om jý te wees.
Wat beteken dit om jou eie stem te hê?
Dis nie altyd die hardste een nie. Dis nie die mees dramatiese nie. Dis die stem wat sê: “Ek hou van kuns.” Of: “Ek’s nie lus vir daai partytjie nie.” Of selfs: “Ek weet ek’s anders, en dis "oukei".”
Jou stem is jou waardes, jou styl, jou keuses. Dis goed om te ontwikkel en verander—maar dit moet jou verandering wees. Nie net ’n aanpassing vir iemand anders se goedkeuring nie.
Wat kan ouers doen?
Ouers, julle kind se soeke na aanvaarding is nie rebellie nie. Dis identiteit in wording. Help hulle luister na hul eie stem—nie net julle s’n, of dié van TikTok nie. Laat hulle eksperimenteer. Vra vrae, moenie preek nie. En wees daar as dinge skeef loop—want dit gaan soms skeef loop.
Slotgedagte – Moenie jouself verkoop vir ’n plek in die kring nie.
’n Mens kan inpas én eg wees. Dis nie altyd maklik nie, maar dis moontlik. So, dra daai skoene wat jy regtig wil hê. Sê wat jy dink. Luister met respek, maar wees nie bang om ’n ander pad te kies nie. Want die regte mense—hulle sal vir jou plek maak, nie net jou masker nie.
Raak betrokke...
Druk op die skakel en maak kontak met ons - los jou telefoon nommer in die booskap en ons maak kontak met jou.
