STAANDE REËLS EN BEVELE

Laas Hersien Op : 09 Augustus 2024

Die doel van hierdie dokument is om lede en ouers 'n oorsig te gee van sommige van ons beleide wat die moeite en doeltreffendheid van sake met betrekking tot Die Voortrekkers beïnvloed. (Nb. Soos daar skool reëls is het ons ook maar ons reëls)

ORG MEYER - ALGEMENE INLIGTING

LIDMAATSKAP REËLS EN REGULASIES

Alle dokumente van Die Voortrekkers, waarna daar verwys word in hierdie lidmaatskap reëls en regulasies, is op die webwerf van Die Voortrekkers beskikbaar. (Biblioteek - Die Voortrekkers).

1. INLEIDING

1.1 Die Voortrekkers is ‘n outonome kultuurbeweging met sy eie grondslag, wese, kernwaardes en doelstellings en funksioneer tans in Suid-Afrika en Namibië.

1.2 In hierdie lidmaatskapbrosjure word die kernbeginsels van lidmaatskap en deelname aan Voortrekker aktiwiteite opgeneem.

1.3 Alle lede van Die Voortrekkers asook alle ander persone wat vrywillig aan die aktiwiteite van Die Voortrekkers deelneem is onderhewig aan die bepalings van Die Voortrekkers se grondwet, reglemente, standaard prosedures en ander beleidsdokumente wat vir die goeie organisasie van die beweging opgestel word.

1.4 Die voertaal van die beweging is Afrikaans.

2. VERWYSINGS

2.1 Die Voortrekkers is onderhewig aan die bepalings van die grondwet, wette en regulasies in die land waarin Die Voortrekkers funksioneer.

2.2 Die Voortrekkers is in Suid-Afrika by die Departement vir Sosiale Ontwikkeling geregistreer as: “‘n Organisasie sonder winsoogmerk, wet 1997.”

2.3 “Die Voortrekkers” is ook as handelsmerk in Suid-Afrika geregistreer ingevolge die bepalings van die “Trade Marks Act 1993”.

2.4 Die Grondwet van Die Voortrekkers word vierjaarliks deur die Kongres van Die Voortrekkers goedgekeur, en alle lede is onderhewig aan die bepalings hiervan.

2.5 In die Grondwet van Die Voortrekkers word die Hoofbestuur van Die Voortrekkers gemagtig om reglemente uit te vaardig om die beweging behoorlik te organiseer en alle lede is onderhewig aan die bepalings hiervan. Die reglemente word jaarliks hersien soos nodig.

2.6 Die Hoofbestuur magtig die Hoofdagbestuur van Die Voortrekkers om nasionale prosedures op te stel en alle lede is onderhewig aan die bepalings hiervan.

2.7 Die betrokke Gebied, Oord, Kommando of spesifieke aktiwiteit waarin die lid van tyd tot tyd funksioneer, stel bykomende prosedures (reëls) beskikbaar vir doeltreffende funksionering, maar dit is altyd onderhewig aan die bepalings van bogenoemde dokumente.

3. LIDMAATSKAP

3.1 Die Voortrekkers bied lidmaatskap vir jeuglede en volwasse lede.

3.2 In die geval van voornemende jeuglede moet die jeuglid se ouer/voog hom vergewis van die grondslag, wese en doelstellings van Die Voortrekkers en skriftelik toestemming gee dat die jeuglid daaraan blootgestel word.

3.3 In die geval van lidmaatskap van Offisiere, Staatmakers, Heemraadslede en Voortrekkervriende moet ‘n voornemende lid:
a) die grondslag, wese en doelstellings van Die Voortrekkers onderskryf en uitleef;
b) ‘n lidmaat wees van ‘n aanvaarde Christelike kerk soos hierna omskryf.

3.4 Met aanvaarde Christelike kerk bedoel Die Voortrekkers dat dit ‘n gemeenskap is van Christene wat die algemene belydenisse van die algemene Christelike kerke onderskryf, in die Drie-enige God glo, Jesus Christus as die enigste Verlosser en Saligmaker bely en die Bybel as die enigste geïnspireerde en onfeilbare Woord van God aanvaar

3.5 Voornemende jeuglede se ouer/voog en voornemende volwasse lede moet die inhoud van hierdie lidmaatskapbrosjure behoorlik nagaan, en die inhoud daarvan aanvaar, alvorens aansoekvorm om lidmaatskap ingevul en geteken word.

3.6 Jeuglede word deel van Die Voortrekkers as Ontdekkers, Penkoppe, Drawwertjies en Verkenners soos in die reglement oor lidmaatskap omskryf.

3.7 Volwasse lede word deel van Die Voortrekkers as Staatmakers, Offisiere, Heemraadslede, Voortrekkervriende, Erelede en Beskermhere/-vroue soos in die reglement oor lidmaatskap omskryf.

3.8 Alle aansoeke om lidmaatskap word volgens die bepalings in die reglement oor lidmaatskap hanteer.

4. AANSOEK OM LIDMAATSKAP AS 'N JEUGLID

4.1 Nadat die ouer/voog tevrede is dat hy/sy die grondslag, wese en doelstellings van Die Voortrekkers verstaan en inhoud van hierdie lidmaatskapbrosjure begryp, en aanvaar dat sy/haar kind hiervolgens aan die aktiwiteite van Die Voortrekkers mag deelneem, word die betrokke aansoekvorm ingevul en ‘n spesifieke Voortrekkerkommando (los veldkornetskap) gekies om by aan te sluit.

4.2 Indien die kommandodagbestuur van die betrokke Voortrekkerkommando die aansoek aanvaar word die kind toegelaat om aan die plaaslike aktiwiteite van die Voortrekkerkommando deel te neem. Die persoon word dan by Die Voortrekkers as lid geregistreer op die sentrale administratiewe stelsel.

4.3 Die aansoekvorm, tesame die kommandodagbestuur se aanbeveling en betaling van registrasiegeldgelde, moet nou aan Die Voortrekkers (betrokke gebiedskantoor) deurgegee word vir finale goedkeuring van lidmaatskap. Ontdekkers betaal nie registrasiegeld nie.

4.4 Na registrasie as lid van Die Voortrekkers moet 'n lid die bepalings in paragraaf 7 van hierdie brosjure nakom.

4.5 Aan die einde van die jaar moet ‘n jeuglid aansoek doen om voortsetting van sy/haar lidmaatskap vir die volgende jaar.

5. AANSOEK OM LIDMAATSKAP AS VOLWASSE LID

5.1 Nadat ‘n volwasse persoon tevrede is dat hy/sy die grondslag, wese, kernwaardes en doelstellings van Die Voortrekkers verstaan en inhoud van hierdie lidmaatskapbrosjure begryp, en aanvaar dat hy/sy hiervolgens aan die aktiwiteite van Die Voortrekkers wil deelneem, word die betrokke aansoekvorm ingevul en ‘n spesifieke Voortrekkerkommando (los veldkornetskap of Staatmakergroep) gekies.

5.2 Volwasse lede moet kennis neem dat Die Voortrekkers homself die reg voorbehou om die nodige ondersoeke na sy lede te doen ingevolge die wette soos gestipuleer in par 5 en 6 van die aansoekvorm vir volwassenes.

5.3 Die kommandodagbestuur van die betrokke Voortrekkerkommando bepaal of die volwasse persoon se lewensinstelling wel versoenbaar is met die grondslag, wese en doelstellings van Die Voortrekkers en of hy/sy ‘n aktiewe lidmaat van ‘n aanvaarde Christelike kerk is. Die persoon word dan by Die Voortrekkers as lid geregistreer op die sentrale administratiewe stelsel.

5.4 Die aansoek, tesame met die kommandodagbestuur se aanbeveling en betaling van jaargelde, moet dan aan Die Voortrekkers (betrokke gebiedskantoor) deurgegee word vir finale goedkeuring van lidmaatskap. Voortrekkervriende, Erelede en Beskermhere/-vroue betaal nie registrasiegeld nie.

5.5 Na registrasie as lid van Die Voortrekkers moet 'n lid die bepalings in paragraaf 7 van hierdie brosjure nakom.

5.6 Aan die einde van die jaar moet ‘n volwasse lid aansoek doen om voortsetting van sy/haar lidmaatskap vir die volgende jaar.

6. PROBLEEM MET AANSOEK OM LIDMAATSKAP

6.1 'n Aansoek om lidmaatskap mag deur die betrokke Kommandodagbestuur terug gehou word vir ‘n periode van 4 weke, maar die rede moet aan die voornemende jeuglid se ouer/voog of voornemende volwasse lid bekend gemaak word.

6.2 Indien ‘n Kommandodagbestuur nie ‘n aansoek wil aanbeveel nie moet die inligting aan die betrokke ouer/voog of volwasse lid bekend gemaak word.

6.3 ‘n Oorddagbestuur, Gebiedsdagbestuur of Hoofdagbestuur het ook die reg om ‘n aansoek nie aan te beveel nie, maar moet ook die redes aan die betrokke ouer/voog of volwasse lid bekend maak.

6.4 In alle gevalle het die voornemende jeuglid se ouer/voog of volwasse persoon die reg tot appèl na die betrokke oord-, gebieds-, of hoofdagbestuur.

6.5 Die besluit van Hoofbestuur is finaal.

6.6 Indien enigiemand probeer om ‘n aansoek buite die amptelike kanale (bv in die media), tot nadeel of verleentheid van Die Voortrekkers te bestuur, verval so 'n aansoek summier.

7. VERANTWOORDELIKHEDE NA GOEDKEURING VAN AANSOEK

7.1 Die lid moet binne 3 maande aktiewe Voortrekkerdrag aankoop, of voor 3 maande, indien daar aan aktiwiteite deelgeneem word waar Voortrekkerdrag gedra gaan word.

7.2 Die lid moet voor die einde van die jaar formele Voortrekkerdrag aankoop. Indien daar voor die einde van die jaar aan aktiwiteite deelgeneem word waar formele Voortrekkerdrag gedra gaan word, word dit verkies dat formele Voortrekkerdrag vroeër aangekoop word.

7.3 Die lid moet die literatuur bekom wat benodig word om die betrokke jaar se Voortrekkerwerk af te handel.

7.4 Die lid moet by Die Voortrekkers ingelyf word tydens ‘n seremonie waar hy/sy die betrokke inlywingsbelofte voor die ouers/voogde (jeuglede) en lede van die Kommandobestuur aflê. Die lid moet die belofte hardop sê, met voorganger soos nodig, of hardop daarop antwoord nadat dit deur ‘n voorganger voorgehou is. Ontdekkers en Voortrekkervriende word nie ingelyf nie.

7.5 Jeuglede moet deur die Kommandodagbestuur aan ‘n spesifieke span in Die Voortrekkers toegeken word en indien ‘n jeuglid los van ‘n Voortrekkerkommando funksioneer moet die verantwoordelike Kommandodagbestuur die nodige reëlings tref soos in die reglemente bepaal.

7.6 Volwasse lede ontvang spesifieke opdragte en verantwoordelikhede van die betrokke Kommandodagbestuur, of soortgelyke bestuursliggame van Die Voortrekkers.

8. BEGRONDING VAN DIE VOORTREKKERS

8.1 GRONDSLAG VAN DIE VOORTREKKERS IS:
God Drie-enig se openbaring aan ons deur die Bybel en die skepping.

8.2 WESE
Die Voortrekkers is ’’n kultuurbeweging wat ons lede, in besonder die jeug, toerus om as moderne Afrikaners, positiewe Burgers en konsekwente Christene hulle roeping deur diensbaarheid uit te leef.

8.3 DOELSTELLINGS
Die Voortrekkers is daartoe verbind om:
1. ons geloof in God Drie-enig God in al ons Voortrekkeraktiwiteite te bevestig.
2. as moderne Afrikaners ons taal, kultuur en erfenis met trots te bevorder.
3. as positiewe burgers opbouend betrokke te wees by ons gemeenskap, land en kontinent.
4. as konsekwente Christene deur ons woorde en dade te getuig.
5. diensbaar in ons omgewing te wees.

8.4 VOORTREKKERKODE
Uit die grondslag, wese, kernwaardes en doelstellings het Die Voortrekkers ‘n kode ontwikkeling wat tien lewensbeginsels omskryf wat elke Voortrekker streef om na te leef. Dit lui soos volg:
● ’n Voortrekker glo in die Drie-enige God en dien Hom.
● ’n Voortrekker se woord is sy eer
● ’n Voortrekker is gehoorsaam.
● ’n Voortrekker leef met respek
● ’n Voortrekker is trots op ons taal, kultuur en erfenis en bevorder dit.
● ’n Voortrekker leer uit die geskiedenis en bou daarop voort.
● ’n Voortrekker waardeer en bewaar sy omgewing.
● ’n Voortrekker neem leiding
● ’n Voortrekker is oplettend en weerbaar.
● ’n Voortrekker is diensbaar.

8.5 BELOFTES
Die toepaslike belofte word tydens inlywing afgelê nadat lidmaatskap goedgekeur is.
8.5.1 Penkoppe en Drawwertjies (Leerlinge graad 0/R tot graad 7)
“Ek sal oral en altyd probeer om 'n Voortrekker te wees, om gehoorsaam te wees, om my volk, my land en my medemens te dien en bo alles die Here lief te hê.”
8.5.2 Verkenners (Leerlinge in graad 8 tot graad 12)
“Op my eer beloof ek dat ek sal strewe om God te eer, om my volk, my land en my medemens te dien en om die Voortrekkerkode na te leef.”
8.5.3 Staatmakers (Volwasse lid 18 – 35 jaar wat nie offisiere is nie)
“Ek beloof dat ek sal strewe om te volhard in diens aan die Drie-enige God, my volk, my land en my medemens. Ek vereenselwig my met en onderskryf die grondslag, wese en doelstellings van Die Voortrekkers en onderneem om die doelstellings van Die Voortrekkers te bevorder.”
8.5.4 Offisiere (Volwasse lede wat diens lewer as spanoffisiere of op besture dien)
“Ek beloof dat ek sal strewe om te volhard in diens aan die Drie-enige God, my volk, my land en my medemens. Ek vereenselwig my met en onderskryf die grondslag, wese en doelstellings van Die Voortrekkers en onderneem om dit aan die jeug oor te dra.”
8.5.5 Heemraadslede (Ouers wat op 'n kommandobestuur verkies/benoem is)
“Ek vereenselwig my met en onderskryf die grondslag, wese en doelstellings van Die Voortrekkers. Ek beloof om alles in my vermoë te doen om Die Voortrekkers in my omgewing met raad en daad te ondersteun en om die doelstellings van Die Voortrekkers te bevorder.”
8.5.6 Ontdekkers, Voortrekkervriende, Erelede en Beskermhere/-vroue lê nie beloftes af nie.

9. REGISTRASIEGELD

9.1 Registrasiegeld is onmiddellik met aansluiting en daarna jaarliks voor of op datum soos deur Hoofbestuur bepaal, vir die betrokke jaar, betaalbaar.

9.2 ‘n Lid se lidmaatskap verval indien sy/haar registrasiegelde nie voor of op die spesifieke datum van die betrokke jaar betaal is nie en mag hy/sy aan geen verdere aktiwiteite van Die Voortrekkers deelneem nie. Hy/Sy verbeur ook ‘n toekenning vir getroue diens vir die betrokke jaar.

9.3 Registrasiegelde vir die betrokke jaar en voorafgaande jare moet ten volle betaal wees ingeval van:
a) Inskrywing vir Hoofleierswag-, Presidentverkenner- en Voorslagtoetsing.
b) Nominasie en verkiesing tot enige bestuursliggaam van Die Voortrekkers behalwe in die geval van stigting van ‘n nuwe Voortrekkerkommando, los veldkornetskap of staatmakergroep.
c) Nominasie en verkiesing tot enige jeugraad van Die Voortrekkers.
d) Toekenning van besondere prestasies soos in hoofstuk 11 van die reglemente uiteengesit.
e) Toekenning van getroue diens, graadwiel of ABC erkenning aan die einde van die betrokke jaar.
f) Benoeming as afgevaardigde of sekundi na ‘n meerdere vergadering van Die Voortrekkers.

10. GEDRAGSKODE VIR DIE VOORTREKKERS

Vir Die Voortrekkers is hierdie gedragskode die voorskrifte waarvolgens die lede hulle gedrag en optrede moet inrig, nie slegs wanneer hulle in Voortrekkerdrag is nie, maar ook in die alledaagse lewe.

10.1 Vereenselwig met begronding van Die Voortrekkers
a) Die gedragskode is gebaseer op die grondslag, wese en doelstellings van Die Voortrekkers (begronding), asook op wellewendheid en welwillendheid teenoor die medemens en eerbied vir die eie. Daarom behoort die lewenswyse en optrede van 'n Voortrekker altyd tot eer van God en tot diens van volk, land en medemens te wees.
b) Lede van Die Voortrekkers vereenselwig hulle in die openbaar met die begronding van Die Voortrekkers deur ‘n spesifieke belofte af te lê met inlywing.

10.2 Eerbiedig grondwet, reglemente en prosedures van Die Voortrekkers.
a) Nadat ‘n Voortrekker hom/haar vereenselwig het met die grondslag, wese en doelstellings van Die Voortrekkers sal hy/sy die bepalings in die grondwet, reglemente en onderskeie prosedures wat daarvolgens uitgevaardig is, te alle tye eerbiedig. Geen Voortrekker is daar bo verhewe nie en niemand kan 'n Voortrekker van die bepalings daarvan vrystel nie.
b) Vertoë om die grondwet, reglemente of prosedures te wysig, moet deur die regte kanale geskied.
c) Tydens ‘n Voortrekkeraktiwiteit sal almal ingelig word rondom spesifieke prosedures, of reëls, wat vir die spesifieke aktiwiteit nodig is, om dit sonder probleme suksesvol uit te voer.

10.3 Respekteer mekaar
a) In Die Voortrekkers gaan dit primêr om die jeuglid, sy behoeftes en omstandighede, en dit moet bepalend wees in ‘n volwasse se optrede.
b) Die volwasse lid moet deurlopend ‘n positiewe ingesteldheid teenoor jeuglede handhaaf omdat dit 'n vormende invloed op die jeuglid se drome en aspirasies sal hê.
c) Lede respekteer mekaar se privaatheid en menswaardigheid en tree met waardigheid en integriteit op teenoor almal wat deel vorm van Die Voortrekkers as jeugbeweging.v d) Voortrekkers kommunikeer met mekaar, en diegene wat met Die Voortrekkers kommunikeer, volgens die bepalings wat in die Kommunikasieplan uiteengesit is.
e) Wanneer enige lid van Die Voortrekkers aan enige trauma tydens of rondom aktiwiteite van Die Voortrekkers blootgestel word, moet daar onmiddellik, volgens die spesifieke prosedure wat in die Traumaherkenning plan uiteengesit word, opgetree word.
f) Jeuglede daarteenoor moet gehoorsaam wees aan volwasse lede en ‘n goeie verhouding met hulle handhaaf.

10.4 Lojaliteit teenoor medemens
a) Voortrekkers is lojaal teenoor lede van Die Voortrekkers in enige pos wat hy/sy beklee in 'n gees van hulpvaardigheid en welwillendheid.
b) Voortrekkers betoon respek teenoor al die burgers en regering van die land waarin hy woon.
c) Voortrekkers salueer die vlae tydens vlagseremonies.
d) Voortrekkers salueer met die aflegging van beloftes.
e) Voortrekkers gebruik nie ‘n saluut as 'n vorm van groet nie.

10.5 Onberispelike optrede in die openbaar
a) Die Voortrekkers handhaaf ‘n Christelike waardesisteem.
b) Die Voortrekkers onderskryf en koester in ooreenstemming met die grondslag, wese en doelstellings van Die Voortrekkerbeweging die Christelik-Bybels-gefundeerde huwelik, dié tussen man en vrou, as die normatiewe grondslag vir die gesin, familie en die gemeenskap.
c) Volwasse lede het die verantwoordelikheid om normatiewe Bybelse waardes met betrekking tot verhoudings op so wyse aan jeuglede voor te leef dat die positiewe gesins- en gemeenskapswaardes waarvoor Die Voortrekkers staan daardeur bevorder word.
d) Geen Voortrekker mag enige dwelmmiddel tydens Voortrekkeraktiwiteite gebruik nie.
e) Geen jeuglid mag rook, of drank gebruik, tydens enige Voortrekkeraktiwiteite nie, behalwe in die geval waar ouers of voogde uitdruklik skriftelike toestemming verleen dat ‘n jeuglid in Gr 11 of 12, met aanbieding van die wynkennis spesialisasie, wyn mag proe.
f) Wanneer 'n volwassene aan diens is en met jeuglede moet werk, mag hy/sy nie rook of alkoholiese drank gebruik nie.
I. Sou die volwassene wil rook moet dit op so ‘n plek gedoen word waar geen kind jou kan sien nie.
g) Die offisier in beheer van ‘n Voortrekkeraktiwiteit moet spesifiek toestemming verleen, en verantwoordelikheid neem, vir gebruik van alkohol deur volwassenes, wat nie aan diens is en direk met jeuglede gaan werk nie, tydens volwasse gesellighede.
h) Wanneer 'n volwasse lid in 'n huweliksgeding betrokke raak of ander onaanvaarbare gedrag openbaar, moet die dagbestuur van die vlak waarby die lid betrokke is, die saak beoordeel en besluit of die persoon in sy pos kan aanbly en met sy werk kan voortgaan. Die volgende twee punte moet in ag geneem word:
i. Die posisie waarin die betrokke persoon hom bevind binne die gemeenskap.
ii. Die aanvaarbaarheid vir Die Voortrekkers in die omstandighede op die bepaalde vlak
i) Lede van Die Voortrekkers mag geen onwelvoeglike materiaal besit, vervaardig of versprei nie.
j) Wanneer ‘n lid na persoonlike gesprek laat blyk dat hy/sy nie meer met die normatiewe waarderaamwerk van Die Voortrekkers kan vereenselwig of bevorder nie, erken en respekteer Die Voortrekkers die individu se reg tot disassosiasie en stel die lid uit eie keuse hom/haarself buite die lidmaatskapvereistes van Die Voortrekkers.

10.6 Politiek en kerk
a) Voortrekkers mag nie persoonlike oortuigings of beskouings op politieke, kerklike of ander vlakke van die openbare lewe aan spanne, Voortrekkerkommando's, oorde of Die Voortrekkers as geheel verkondig nie.
b) Die Voortrekkers neem aan geen funksie of werksaamheid van partypolitieke aard deel nie maar lede word wel aangemoedig om as positiewe landsburger aan die daaglikse politiek deel te neem.

10.7 Dissipline
a) Voortrekkers handhaaf te alle tye goeie dissipline tydens Voortrekkeraktiwiteite en met alle aktiwiteite moet daar ‘n volwasse lid in beheer geplaas word.
b) Indien ‘n lid wel weens verkeerde gedrag aangespreek moet word, mag geen neerhalende taal gebruik, of enige vorm van fisiese straf, toegedien word nie.
c) In die geval van mindere oortredings kan ‘n lid versoek word om bykomende dienswerk tydens die betrokke aktiwiteit te verrig.
d) Die volwasse lid in beheer van ‘n aktiwiteit moet meer ernstige oortredings na ‘n dissiplinêre komitee verwys wat dan streng volgens die bepaalde reglement moet optree.

10.8 Opleiding
a) Jeuglede volg getrou die Voortrekkerwerk wat vir die betrokke jaar afgehandel moet word ten einde te groei in die doelstellings van Die Voortrekkers.
b) Jeuglede se vordering moet jaarliks beoordeel word en aan die einde van Gr 7 en Gr 12 kan hulle deelneem aan ‘n nasionale evalueringsproses.
c) Volwasse lede woon opleiding en verrykingsgeleenthede op 'n gereelde basis by ten einde jeuglede beter toe te rus.
d) Volwasse lede se opleiding sal ook deurlopend nagegaan word.

10.9 Beeld van Die Voortrekkers in openbaar
a) Die optrede en uitsprake van lede van Die Voortrekkers kan nooit in stryd wees met die grondslag, wese en doelstellings of die bepalings van die grondwet, reglemente en prosedures of enige spesifieke besluite van Die Voortrekkers nie.
b) Optrede van leiers moenie Die Voortrekkers in gedrang bring of in die verleentheid stel nie.
c) Geen Voortrekker mag sonder magtiging deur middel van artikels, briewe of onder-houde in die openbare media 'n interpretasie gee van beleid- of beginselsake van Die Voortrekkers nie.
d) Voortrekkers moet wel gewone nuusberigte rondom Voortrekker aktiwiteite aan die media beskikbaar stel en aktief deelneem in briewekolomme van koerante.
e) Voortrekkers word nie sondermeer gebruik om fondse vir ander organisasies in te samel nie.
f) Insameling van fondse met kompetisies waarby loting betrokke is vir die aanwysing van 'n wenner mag nie in Die Voortrekkers gebruik word nie.
g) Voortrekkerdrag word altyd gedra volgens die bepalings in die Voortrekkerdrag reglement.
h) Voortrekkers mag nie Voortrekkerdrag dra wanneer daar vir ander doeleindes as Die Voortrekkers fondse ingesamel word nie.
i) Voortrekkers tree nie in Voortrekkerdrag by enige partypolitieke byeenkoms op nie.
j) Voortrekkers neem nie in Voortrekkerdrag deel aan byeenkomste van ander organisasies nie, tensy bestuursliggaam van Die Voortrekkers daartoe besluit het.

10.10 Uitnemende leierskap
a) Voortrekkers moedig die ontwikkeling van uitnemende leierskap aan en wil graag dat volwasse lede deur voorbeeld dit aan die jeug oordra.
b) Volwasse lede is deeglik in die beplanning van alle aktiwiteite en maak voorsiening vir onverwagse gebeurlikhede.
c) Volwasse lede bly regverdig in oordeel en positief in sy siening van alle Voortrekkers ten einde nie persoonlik of sy eie span/kommando/oord/gebied, ten koste van ander, te bevoordeel nie.

10.11 Kreatiwiteit
a) Die Voortrekkers stel leermateriaal beskikbaar om Voortrekkerwerk aan te bied en versoek deurlopend aanbieders daarvan om nuwe materiaal te skep.
b) Voortrekkers moedig juis ook almal aan om eie kreatiewe metodes te ontwikkel om die aanbieding van Voortrekkerwerk te verbeter.

10.12 Verantwoordelikheid
a) Volwasse lede is altyd verantwoordelik vir jeuglede se fisiese en emosionele veiligheid en beskerming tydens Voortrekkeraktiwiteite en moet te alle tye die betrokke bestuursliggaam raadpleeg indien onseker.
b) Dit is vir elke Voortrekker 'n saak van eer om die take wat hy onderneem het, te voltooi. Indien hy weens onvermydelike omstandighede nie kan uitvoer wat hy onderneem het nie, sorg hy vir 'n plaasvervanger of verwittig die verantwoordelike persoon betyds daarvan. Die betrokke Voortrekker bly egter aanspreeklik vir die werk van sy plaasvervanger.
c) 'n Voortrekker kom al sy verpligtings met betrekking tot die bywoning van ver-gaderings of funksies getrou na. Indien hy met rede verhinder word om dit te doen, stel hy die verantwoordelike persoon skriftelik asook sy sekundus daarvan in kennis en oorhandig alle toepaslike dokumentasie aan die sekundus.

11. DISSIPLINÊRE OPTREDE

11.1 Elke ouer/voog verklaar as volg met aansoek om lidmaatskap: “Dat ek kennis neem dat my kind hom/haar aan die bepalings van die grondwet, reglemente en standaard prosedures van Die Voortrekkers onderwerp by aanvaarding van sy/haar lidmaatskap en aanvaar dat daar toepaslik volgens die bepalings van Die Voortrekkers se reglemente, insake dissiplinêre optrede, opgetree kan word indien hy/sy die beginsels daarvan of ander landswette oortree”

11.2 Elke volwasse Voortrekker verklaar as volg met aansoek om lidmaatskap: “Dat ek kennis neem dat ek my aan die bepalings van die grondwet, reglemente en standaard prosedures van Die Voortrekkers onderwerp en aanvaar dat daar toepaslik volgens die bepalings van Die Voortrekkers se reglemente, insake dissiplinêre optrede, opgetree kan word indien ek die beginsels daarvan of ander landswette oortree Ek aanvaar dat ek in die uitvoering van my Voortrekkerverpligtinge gestuit kan word, indien daar na die redelike oordeel van die betrokke bestuursliggaam ondersoek ingestel moet word na my optrede, omdat dit dalk daarop sou dui dat dit in stryd is met die grondwet, reglemente en standaard prosedures van Die Voortrekkers.”

11.3 Vir alle aktiwiteite wat deur Die Voortrekkers aangebied word, is die offisier in beheer van die aktiwiteit, verantwoordelik om ‘n dissiplinêre komitee daar te stel wat na gedragsprobleme sal omsien. Dit is die behoefte van Die Voortrekkers om dmv positiewe bemoeienis met lede tot die algemene opvoeding van lede behulpsaam te wees.

11.4 Dit is algemene gebruik in Die Voortrekkers om lede wel met bykomende werk, te laat diens lewer, indien hulle skuldig is aan mindere oortredings tydens aktiwiteite. Lede sal nie met “strafparades” of “fisiese oefening” of “lyfstraf” getugtig word nie.

11.5 Oortredings van ‘n ernstige aard word ooreenkomstig die bepalings in die betrokke reglement hanteer.

12. BEËINDIGING VAN LIDMAATSKAP

Lidmaatskap van Die Voortrekkers word beëindig in die volgende gevalle:
12.1 wanneer 'n lid skriftelik bedank en die betrokke bestuursliggaam die bedanking aanvaar;
12.2 wanneer 'n lid sonder opgaaf van aanvaarbare redes ondanks drie aanmanings, waarvan die finale skriftelik is, ophou om Voortrekkerwerk te doen;
12.3 wanneer 'n lid verhuis en nie by 'n ander Voortrekkerkommando of los veldkornetskap aansluit nie;
12.4 wanneer 'n lid versuim om sy registrasiegeld voor die sperdatum wat hoofbestuur bepaal te betaal;
12.5 wanneer 'n lid vals inligting in sy aansoek om lidmaatskap verstrek het.
12.6 wanneer lidmaatskap van enige lid, op aanbeveling van ‘n dissiplinêre komitee, deur hoofbestuur beëindig word indien daar bevind word dat ‘n lid hom/haar gedra het op 'n wyse wat strydig is met die bepalings van die grondwet, reglemente, prosedures of lidmaatskapbrosjure van Die Voortrekker;
12.7 wanneer ‘n bestuursliggaam nie die jaarlikse aansoek om hernuwing van lidmaatskap goedkeur nie.

13. VOORTREKKERAKTIWITEITE EN TOEKENNINGS VIR JEUGLEDE

13.1 Alle volwasse lede lewer vrywillig ‘n diens aan Die Voortrekkers en dan in besonder aan die betrokke span en plaaslike Voortrekkerkommando.

13.2 Die aanbieding van aktiwiteite vir jeuglede geskied meestal met hulpbronne wat geredelik tot die volwasse lid se beskikking is en daarom sal die gehalte van aanbiedings baie verskil van span tot span en kommando tot kommando.

13.3 Met die vervaardiging en verkryging van hulpbronne is die koste daarvan, die beskikbaarheid daarvan, eie entrepreneurskap vaardigheid en persoonlike ervaring, belangrike faktore wat spanoffisiere se aanbiedings totaal van mekaar laat verskil. Deur opleiding in Die Voortrekkers word gepoog om hierdie verskil so klein as moontlik te maak.

13.4 Persoonlike omstandighede van alle volwasse lede kan ook in ‘n oogwink so verander dat sy vrywillige werk vir Die Voortrekkers dramaties ingekort moet word en moet ‘n span of kommando weer ander leiers op bepaalde vlakke aanwys.

13.5 Die Voortrekkers het wel ‘n oorhoofse loopbaanplan wat elke spanoffisier in ag moet neem in die aanbieding van Voortrekkerwerk ten einde die wese (missie) en doelstellings van Die Voortrekkers te bevorder.

13.6 Vir elke graad is daar ‘n spesifieke kurrikulum wat die betrokke spanoffisier met die span moet deurwerk in die betrokke jaar ten einde ‘n graadwiel te verwerf wat deur die Kommandobestuur toegeken word.

13.7 Elke span of individuele lid werk ook aan verskeie spesialisasies en dit sal ook grootliks verskil ten einde die span se behoeftes en spanoffisier se hulpbronne te versoen. Spesialisasies word deur die onderskeie bestuursliggame van Die Voortrekkers toegeken.

13.8 Kampe vir die span, die Voortrekkerkommando en in die Gebied is vir alle Voortrekkers beskikbaar, maar die koste daarvan moet in ag geneem word in die beplanning van elke span se aktiwiteite.

13.9 Uitstappies, fondsinsamelingsprojekte, diensleweringsprojekte, bemarkings-aksies en dergelike aktiwiteite word ook aangebied ten einde Voortrekkeraktiwiteite ten volle te beleef.

13.10 Jaarlikse getroue dienserkenning word deur die Kommandobestuur toegeken aan die lede wat na die oordeel van die bestuur getrou deelgeneem het aan die jaar se aktiwiteite.

13.11 ABC toekennings word deur die Kommandobestuur toegeken aan jeuglede op grond van aktiwiteite

13.12 Vir die verwerwing van Voorslag toekenning aan die einde van Gr 7 en die HW/PV toekenning aan einde van Gr 12, is deurlopende bywoning en deelname aan Voortrekkeraktiwiteite noodsaaklik ten einde die vereiste punte te bekom om aan die toetsing te kan deelneem.

13.13 Erkenning vir ander besondere prestasies word aan jeuglede gemaak volgens die bepalings van die reglemente.

13.14 Geen toekenning wat aan 'n Voortrekker gemaak is kan hom op 'n later stadium ont-neem word nie, behalwe indien die toekenning nie op 'n bona fide wyse verwerf is nie.

14. OUERS EN VOOGDE VAN JEUGLEDE SE VERANTWOORDELIKHEID

14.1 Sien toe dat al die noodsaaklike persoonlike inligting van jeuglede aan die spanoffisier en Voortrekkerkommando deurgegee en deurlopend opgedateer word.

14.2 Bekom die jaarprogram van die spanoffisier, bied hulp aan waar moontlik en sien toe dat jeuglid getrou aan aktiwiteite deelneem.

14.3 Indien ‘n jeuglid om spesifieke redes nie aan ‘n aktiwiteit kan deelneem nie, moet die inligting aan die spanoffisier deurgegee word sodat hulp aangebied kan word waar nodig.

14.4 Vergewis u deurlopend van die aktiwiteite waarmee die jeuglid besig is en ondersteun hom/haar daarin.

14.5 Vestig die grondslag, wese en doelstellings van Die Voortrekkers deurlopend by die jeuglid as ‘n lewenswyse.

15. VOORTREKKERAKTIWITEITE EN TOEKENNINGS VIR VOLWASSE LEDE

15.1 Alle volwasse lede lewer vrywillig ‘n diens aan Die Voortrekkers.

15.2 Aanbieding van aktiwiteite vir jeuglede geskied meestal met hulpbronne wat geredelik tot die volwasse lid se beskikking is.

15.3 Met die vervaardiging en verkryging van hulpbronne is die koste daarvan die verantwoordelikheid van die volwassene self. Deur opleiding in Die Voortrekkers word gepoog om die volwassene hierin te ondersteun.

15.4 Die Voortrekkers het wel ‘n oorhoofse loopbaanplan wat elke spanoffisier in ag moet neem in die aanbieding van Voortrekkerwerk ten einde die wese (missie) en doelstellings van Die Voortrekkers te bevorder.

15.5 Vir elke graad is daar ‘n spesifieke kurrikulum wat die betrokke spanoffisier met die span moet deurwerk in die betrokke jaar.

15.6 Elke span of individuele lid werk aan verskeie spesialisasies ten einde die span se behoeftes en spanoffisier se hulpbronne te versoen.

15.7 Kampe vir die span moet beplan en kampe van die Voortrekkerkommando en aktiwiteite in die Gebied moet bygewoon word.

15.8 Uitstappies, fondsinsamelingsprojekte, diensleweringsprojekte, bemarkings-aksies en dergelike aktiwiteite word beplan soos moontlik.

15.9 Jaarlikse getroue dienserkenning word deur die Kommandobestuur toegeken aan volwasse lede wat na die oordeel van die bestuur getrou deelgeneem het aan die jaar se aktiwiteite.

15.10 ABC toekennings word deur die Kommandobestuur toegeken aan volwasse lede op grond van aktiwiteite waaraan deelgeneem is.

15.11 Volwasse lede moet gereeld opleidingskursusse volg waarvoor daar sertifikate en toepaslike kentekens verskaf word.

15.12 Erkenning vir besondere prestasies word aan volwasse lede gemaak volgens die bepalings van die reglemente

16. OPLEIDING VIR VOLWASSENES

16.1 Ten einde Voortrekkeraktiwiteite suksesvol aan te bied, bied Die Voortrekkers by verskeie geleenthede opleiding van ‘n groot omvang vir volwassenes aan.

16.2 Die koste van opleiding is die verantwoordelikheid van die volwassene. Voortrekker-kommando’s sou wel uit eie beweging hiermee behulpsaam kan wees ten einde opleiding te verbeter.

16.3 Alle volwasse lede behoort met aansluiting die Intreekursus deurloop.

16.4 Spanoffisiere behoort in die eerste jaar Spanhanteringkursus deurloop.

16.5 Volwassenes wat tot besture verkies word behoort in die eerste jaar na verkiesing Bestuurskursus deurloop.

17. TOERUSTING EN TERREINE

17.1 Toerusting wat vrywillig tot beskikking van Voortrekkers gestel word, word geag op eie risiko aangebied te wees tensy uitdruklik vermeld dat toerusting verseker moet word. Alhoewel lede van Die Voortrekkers te alle tye sorg sal dra dat toerusting behoorlik opgepas en gebruik sal word, het die vrywillige verskaffer van die toerusting geen eis teen enige lid of bestuursliggaam van Die Voortrekkers nie, tensy growwe nalatigheid aangetoon kan word en eis tot die effek aan die versekeraars van Die Voortrekkers deurgegee word indien dit wel verseker was.

17.2 Dit word aanvaar dat toerusting wat vrywillig aan Die Voortrekkers beskikbaar gestel word in behoorlike en veilige werkende toestand aangebied word.

17.3 Verantwoordelike volwassenes moet te alle tye toesien dat alle toerusting, eie eiendom en op leenbruik, wat gebruik word in goeie en veilige werkende toestand is.

17.4 Waar nodig moet toerusting deur die betrokke bestuursliggaam in Die Voortrekkers na eie goeddunke behoorlik verseker word.

17.5 Met die gebruik van huise en ander terreine vir aanbied van Voortrekkeraktiwiteite geld die normale regsaanspreeklikheid bepalings en persoonlike regsaanspreeklikheid, waar van toepassing.

18. VERVOER

18.1 Die Voortrekkers maak meestal gebruik van privaat voertuie om lede van punt tot punt te vervoer.

18.2 Privaat voertuie wat gebruik word moet behoorlik padwaardig wees en die bestuurder in besit van ‘n geldige bestuurslisensie wees. Die bestuurder hoef nie in besit van ‘n PRP lisensie te wees nie, tensy die grootte van die voertuig (soos bv 10 passasiers) dit sou vereis.

18.3 Indien die voertuig in ‘n ongeluk betrokke is, het passasiers ‘n normale eis teen die padongeluksfonds volgens die wetgewing wat die fonds bestuur.

18.4 Indien Die Voortrekkers van openbare vervoer gebruik maak, moet toegesien word dat die verskaffer van die vervoer bewys lewer dat die voertuig padwaardig is en alle wetlike aspekte nagekom is. Die nodige sertifikaat moet op navraag aan die verantwoordelike volwassene getoon word.

19. BESERINGS, SIEKTES EN VRYWARING

19.1 Die Voortrekkers bied aktiwiteite juis aan om vol avontuur te wees en moet alle lede en ouers/voogde van lede kennis neem dat dit noodwendig risiko’s met gewone beserings kan verhoog.

19.2 Lede gaan op uitstappies en kampe in die veld, met al die uitdagings van ‘n lewe in die veld, spesiale kursusse word aangebied met gesofistikeerde toerusting bv abseil, oorlewingskursusse met spesifieke uitdagings, waterwerk aanbiedings en nog vele meer.

19.3 Verantwoordelike volwasse lede van Die Voortrekkers is te alle tye in bevel en beheer met aanbieding van alle aktiwiteite en is alle lede, en in besonder jeuglede, verplig om nougeset die versoeke en opdragte van hierdie volwassenes na te kom. Ouers en voogde moet dit duidelik onder aandag van jeuglede bring.

19.4 Die verantwoordelike volwassene moet altyd toesien dat basiese noodhulp beskikbaar is om lede in tye van siekte en besering behulpsaam te wees. Basiese medikasie sal tydens kampe, toere en dergelike aktiwiteite aan lede beskikbaar gestel word vir gebruik onder die toesig van ‘n verantwoordelike volwassene.

19.5 Die volwasse lid in beheer word gemagtig om mediese hulp aan lede te bied soos nodig in noodgevalle en in die vrywaringsvorm hieronder opgeneem onder artikel 21.7 en 22.9.

20. BEELDMATERAAL

20.1 Die Voortrekkers sal toesien dat slegs smaakvolle fotos en videos van lede op enige platform geskep en versprei word. Indien enige lid en of ouer/voog van mening is dat ‘n bepaalde foto/videos nie verder gebruik mag word nie, moet die toepaslike bestuursliggaam onmiddelik daarvan in kennis gestel word.

20.2 Kinders, ouers, voogde of volwasse lede kan wel vooraf aandui indien fotos of videos van ‘n bepaalde persoon nie geneem of geplaas mag word nie. Die Voortrekkers sal sovêr moontlik poog om aan die versoek te voldoen.

21. VERKLARING DEUR OUER/VOOG OP AANSOEKVORM VAN VOORNEMENDE JEUGLID.

21.1 Dat ek my vergewis het van die grondslag, wese en doelstellings van Die Voortrekkers soos uiteengesit in hierdie lidmaatskapbrosjure en verleen toestemming dat my kind daaraan blootgestel mag word en onderneem om hom/haar daarin te ondersteun.

21.2 Dat ek hiermee bystand verleen aan my kind ten einde aansoek te doen om lidmaatskap van Die Voortrekkers.

21.3 Dat ek aanvaar dat die beginsels wat in die lidmaatskapbrosjure vervat is as basis sal dien by oorweging van my kind se aansoek en voortsetting van lidmaatskap.

21.4 Dat ek van mening is dat my kind voldoen aan die vereistes van Die Voortrekkers soos uiteengesit in die lidmaatskapbrosjure.

21.5 Dat ek kennis neem dat my kind hom/haar aan die bepalings van die grondwet, reglemente en standaard prosedures van Die Voortrekkers onderwerp by aanvaarding van sy/haar lidmaatskap en aanvaar dat daar toepaslik volgens die bepalings van Die Voortrekkers se reglemente, insake dissiplinêre optrede, opgetree kan word indien hy/sy die beginsels daarvan of ander landswette oortree. Ek aanvaar dat my kind se deelname aan Voortrekkeraktiwiteite tydelik opgeskort kan word, indien sy/haar optrede na die redelike oordeel van die betrokke bestuursliggaam, ernstig in stryd is met die grondwet, reglemente en standaard prosedures van Die Voortrekkers.

21.6 Dat ek onderneem om toe te sien dat my kind se registrasiegeld jaarliks voor die sperdatum betaal word by gebrek waarvan sy/haar lidmaatskap kan verval.

21.7 Dat ek hiermee Die Voortrekkers, al sy openbare amptenare, al sy verteenwoordigers en lede vrywaar teen aanspreeklikheid van enige eis om skade, uitgesonderd skade veroorsaak deur hulle growwe nalatigheid, hetsy gebaseer op geldelike verlies, uit-gawes aangegaan in verband met sodanige skade, eise vir pyn en lyding, eise vir verlies aan toekomstige inkomste of watter ander aanspreeklikheid ookal, wat mag voortspruit uit een of meer van die volgende:
a) dood of besering aan die persoon van bogenoemde kind;
b) verlies van eiendom van bogenoemde kind terwyl gemelde kind betrokke is by enige aktiwiteit en/of reis op pad na of van enige perseel waar sodanige aktiwiteit aangebied word waarby Die Voortrekkers of enige van sy verteenwoordigers dit op enige vlak georganiseer het of by betrokke is.

21.8 Dat ek hiermee die gemagtigde verteenwoordiger(s) van Die Voortrekkers wat in bevel mag wees tydens enige voorval waarin bogemelde kind beseer mag word, magtig en aanstel om namens en in my plek tot enige van die ondergemelde toe te stem indien ek, om welke rede ookal, nie beskikbaar is nie:
a) chirurgiese of mediese prosedure en/of toediening van narkose wat nodig mag wees as gevolg van enige besering aan die persoon van die bogemelde kind;
b) die aangaan van mediese koste in verband met bogemelde kind insluitend nood mediese afvoer.

21.9 Dat ek waarborg en bevestig dat ek self gemagtig is en die reg het om tot sodanige optrede in te stem en bekragtig enige optrede hierkragtens gedoen.

21.10 Dat ek onderneem om enige (van die bogemelde) koste ten opsigte van bogemelde op aanvraag te betaal en onderneem hiermee om Die Voortrekkers en/of enige van sy openbare amptenare en/of enige van sy verteenwoordigers te vergoed vir en vrywaar teen van enige koste wat in hierdie verband aangegaan mag word.

21.11 Dat ek bevestig dat enige mediese rekening direk aan my gestuur moet word en onderneem om alle koste in die verband op aanvraag te betaal.

21.12 Dat die inligting wat ek op aansoek vorm verskaf het korrek is.

21.13 Dat ek die woonadres vermeld in die “Aansoek om Lidmaatskap” kies vir doeleindes van enige kennisgewing aan my, voortspruitend uit enige aksie gedek deur hierdie dokument.

21.14 Dat ek die inhoud van hierdie onderneming en lidmaatskapbrosjure met die voornemende jeuglid bespreek het.

22. VERKLARING DEUR VOORNEMENDE VOLWASSE LID

22.1 Dat ek vrywillig Die Elektronies aansoek tot lidmaatskap voltooi het.

22.2 Dat ek my vergewis het van die grondslag, wese en doelstellings van Die Voortrekkers en die volledige inhoud van die lidmaatskapbrosjure.

22.3 Dat ek aanvaar dat die beginsels wat in hierdie lidmaatskapbrosjure vervat is as basis sal dien by oorweging van my aansoek, en voortsetting, om lidmaatskap.

22.4 Dat ek van mening is dat ek voldoen aan al die vereistes van Die Voortrekkers soos uiteengesit in die lidmaatskapbrosjure.

22.5 Dat my naam nie ingevolge artikel 50(2) Wet 32 van 2007 in die Nasionale Register van Seksuele Oortreders opgeneem is nie.

22.6 Dat ek nie ingevolge artikel 120 van die Kinderwet 38 van 2005 onbevoeg verklaar is om met kinders te werk nie.

22.7 Dat Die Voortrekkers homself die reg voorbehou om die nodige ondersoeke na sy lede te doen ingevolge die wette soos hierbo genoem.

22.8 Dat ek kennis neem dat ek my aan die bepalings van die grondwet, reglemente en standaard prosedures van Die Voortrekkers onderwerp en aanvaar dat daar toepaslik volgens die bepalings van Die Voortrekkers se reglemente, insake dissiplinêre optrede, opgetree kan word indien ek die beginsels daarvan of ander landswette oortree Ek aanvaar dat ek in die uitvoering van my Voortrekkerverpligtinge gestuit kan word, indien daar na die redelike oordeel van die betrokke bestuursliggaam ondersoek ingestel moet word na my optrede, omdat dit dalk daarop sou dui dat dit in stryd is met die grondwet, reglemente en standaard prosedures van Die Voortrekkers.”

22.9 Dat ek onderneem om jaarliks registrasiegeld, indien van toepassing, voor die sperdatum te betaal en by gebreke waarvan my lidmaatskap kan verval.

22.10 Dat ek hiermee Die Voortrekkers, al sy openbare amptenare, al sy verteenwoordigers en lede vrywaar teen aanspreeklikheid van enige eis om skade, uitgesonderd skade veroorsaak deur hulle growwe nalatigheid, hetsy gebaseer op geldelike verlies, uit-gawes aangegaan in verband met sodanige skade, eise vir pyn en lyding, eise vir verlies aan toekomstige inkomste of watter ander aanspreeklikheid ookal, wat mag voortspruit uit een of meer van die volgende:
a) dood of besering aan my as die persoon ;
b) verlies van eiendom van my as persoon terwyl ek betrokke is by enige aktiwiteit en/of reis op pad na of van enige perseel waar sodanige aktiwiteit aangebied word waarby Die Voortrekkers of enige van sy verteenwoordigers dit op enige vlak georganiseer het of by betrokke is.

22.11 Dat ek hiermee die gemagtigde verteenwoordiger(s) van Die Voortrekkers wat in bevel mag wees tydens enige voorval waarin ek beseer mag word, magtig en aanstel om namens my en in my plek tot enige van die ondergemelde toe te stem indien ek, om welke rede ookal, nie daartoe in staat is nie en nie enige spesifieke naasbestaande beskikbaar is nie:
a) chirurgiese of mediese prosedure en/of toediening van narkose wat nodig mag wees as gevolg van enige besering aan my persoon;
b) die aangaan van mediese koste in verband met bogemelde en insluitend nood mediese afvoer.

22.12 Dat ek waarborg en bevestig dat ek self gemagtig is en die reg het om tot sodanige optrede in te stem en bekragtig enige optrede hierkragtens gedoen.

22.13 Dat ek onderneem om enige (van die bogemelde) koste ten opsigte van bogemelde op aanvraag te betaal en onderneem hiermee om Die Voortrekkers en/of enige van sy openbare amptenare en/of enige van sy verteenwoordigers te vergoed vir en vrywaar teen van enige koste wat in hierdie verband aangegaan mag word.

22.14 Dat ek bevestig dat enige mediese rekening direk aan my gestuur moet word en onderneem om alle koste in die verband op aanvraag te betaal.

22.15 Dat die inligting wat ek op hierdie aansoekvorm verskaf is wel korrek is, en onderneem om deurlopend veranderinge van inligting deur te gee.

22.16 Dat ek die woonadres vermeld in die “Aansoek om Lidmaatskap” kies vir doeleindes van enige kennisgewing aan my, voortspruitend uit enige aksie gedek deur hierdie dokument.

22.17 Dat ek myself deeglik vergewis het van die inhoud van hierdie onderneming en die lidmaatskapbrosjure van Die Voortrekkers.