Dis nie altyd wat gesê wórd nie...
“Ek’s fine,” sê sy. Maar haar arms is gevou, sy kyk weg, en haar stem is sag soos ’n muis. Nou wat dan nou? Kinders hoor woorde, ja – maar dit vat tyd om die “ander helfte van die storie” ook raak te sien: liggaamstaal en toon.
Want kom ons wees eerlik – partykeer sê ons een ding, maar ons lyf skree iets heeltemal anders.
Hoekom is nie-verbale leidrade só belangrik?
Wel, kinders kommunikeer baie van hul emosies sonder woorde – dis net natuurlik. ’n Skouersakkie by die hek? ’n Stilte by ete? ’n Skielike traan wat kom toe jy net vra hoe skool was?
Dis daardie klein leidrade – ’n afkyk, ’n sagte sug, ’n stemtoon wat afplat – wat vir ons die waarheid wys agter die glimlag. En as ons wil hê kinders moet empaties wees, moet hulle leer om daardie leidrade te lees. Só word hulle nie net beter vriende nie, maar ook meer ingeligte kommunikeerders.
Maar hoe leer ’n mens dit vir laerskoolkinders?
Nie met ’n PowerPoint nie – dit’s verseker.
Dis eerder in die gewone oomblikke:
-
Wanneer jy sê: “Ek hoor jy sê jy’s okay, maar jou gesiggie sê dalk iets anders. Wil jy daaroor praat?”
-
Of wanneer jy in ’n storieboek wys: “Kyk hoe lyk haar gesig. Dink jy sy’s regtig bly?”
-
Of sommer in die ry by Spar as iemand agter julle geïrriteerd sug – en jy sê fluisterend: “Hy lyk moeg, né? Dis nie altyd wat mense sê wat belangrik is nie, maar hóé hulle lyk en klink.”
Hier leer hulle iets waardevol: mense se gevoelens lê dikwels in die stiltes tussen die sinne.
Liggaamstaal is soos geheime kode – kinders kén dit, maar moet leer om dit te verstaan
Jong kinders voel baie dinge, maar kan dit nie altyd verwoord nie. Hulle weet nie hoe om te sê: “Ek voel ongemaklik as iemand te lank na my staar” nie. Maar hulle wys dit dalk deur te draai of hul arms styf teen hul lyf te druk.
As ouers en mentors leer ons hulle: “Dis okay om iets te sê as iemand se houding jou ongemaklik laat voel. Jy mág grense stel. So leer hulle om hul eie gevoelens én dié van ander beter te lees – en reg te hanteer.
Speel-speel leer werk wondere
’n Speletjie soos “Raai die emosie” – waar jy ’n gesig trek en hulle moet raai – klink eenvoudig, maar dis goud werd. Of kyk na ’n fliek sonder klank en vra: “Wat dink jy gebeur nou?” Só begin hulle oefen om die storie sonder woorde ook te snap.
Voortrekkers leer nie net vlaghys nie...
By Voortrekkers gaan dit nie net oor kamp en kompas nie – dit gaan oor mense wees. Regte mense, met regte gevoelens. En ons leer kinders dat dit belangrik is om mekaar reg te lees – nie net te hoor nie.
Want as jy liggaamstaal kan verstaan, kan jy raak sien wanneer iemand regtig hulp nodig het – nog voordat hulle weet hoe om daarvoor te vra.
Raak betrokke...
Druk op die skakel en maak kontak met ons - los jou telefoon nommer in die booskap en ons maak kontak met jou.
