Daardie knoop in die maag…
Jy’t gesien hoe dit lyk: die legkaart pas nie in nie, die maatjies wil nie deel nie, die toets het nie goed gegaan nie – en daar bars dit los. Trane. Arms wat swaai. ’n Gekreukelde papier. Soms selfs ’n gil of ’n stamp teen die tafel.
Dis woede. En dis normaal. Maar dit beteken nie dit moet alles oorneem nie.
Emosies is nie verkeerd nie – dis wat ons daarmee doen wat tel
Woede self is nie die probleem nie. Dis ’n sein. Soos daardie rooi lig op die dashboard. Dit sê net: iets voel verkeerd. Dalk voel jou kind magteloos, misverstaan of teleurgesteld – maar hulle weet nie hoe om dit te sê nie, so hulle wys dit met ’n uitbarsting.
En weet jy wat? Dis maklik om as ouer ook sommer warm onder die kraag te raak. Dis verstaanbaar. Maar dis juis daardie oomblikke wat geleenthede word, as ons dit toelaat.
"Ek sien jy’s kwaad…"
Net daardie paar woorde kan die verskil maak. Jy erken hoe hulle voel sonder om dit goed te praat. Want sê nou jy’t iets gebou en iemand stamp dit om - sal jy nie ook wil grom nie?
Deur woede te benoem, help jy jou kind om dit nie as iets skadelik te sien nie, maar as iets wat bestuur kan word. Net soos ’n vuur - nuttig in ’n kaggel, gevaarlik op die gordyne.
’n Paar wenke wat regtig werk (selfs as dit donderweer in die kombuis)
-
Leer asemhaal soos ’n superheld. Ja, regtig. Sê vir jou kind: “Superhelde moet kalm bly om te beplan. Kom ons oefen drie stadig-in-en-uit asemhalings.” Klink simpel – werk wonders.
-
Gebruik ‘Ek voel…’ sinne. In plaas van “Jy is gemeen!”, probeer: “Ek voel hartseer as jy my speelding vat.” Dis só ’n eenvoudige skuif, maar dit bou brue in plaas van mure.
-
Skep ’n veilige ‘afkoelplek’. Nie as straf nie; maar as ’n rusplek. ’n Kussinghoek. ’n Storieboek. Selfs ’n paar kleurpotlode. Gee hulle ruimte om weer kalm te word.
Soms moet dinge net verkeerd loop om reg te leer
Frustrasie is deel van groei. Geen kind leer fiets ry sonder ’n paar skraapplekke nie. Maar deur saam daardie emosies te hanteer, sonder skaamte of skel, bou jy veerkragtigheid in.
En ja, dit vat tyd. En geduld. En soms ook ’n diep asemhaling of drie van jou kant af. Maar elke keer wat jou kind nie met ’n skreeu of stamp reageer nie, is ’n oorwinning.
By Voortrekkers leer ons ook: jy’t ’n keuse in hoe jy reageer
Dis maklik om kwaad te word as die tent se pen krom slaan of iemand jou beurt vat met die roei. Maar dis juis daar waar kinders leer: ek kan stop, dink, en kies wat ek volgende gaan doen.
Dis hoe leiers groei. Nie uit perfeksie nie – maar uit reaksie.
Raak betrokke...
Druk op die skakel en maak kontak met ons - los jou telefoon nommer in die booskap en ons maak kontak met jou.
